Vir skole: een adres op die BCC-lyn
Almanak vervang niks wat die skool gebruik nie. Dit lees die kennisgewings wat u reeds stuur, en plaas elke datum en bedrag in die kalenders van geverifieerde ouers.
Wat die skool doen
- Voeg een adres by die BCC-lyn van die kennisgewings wat u klaar stuur. d6, SA-SAMS, Ed-admin of gewone e-pos werk almal.
- Een keer per jaar: die lys van ouers se e-posadresse, of gesinskodes wat Almanak met een klik genereer en wat u op die skoolfondsstaat of welkomsbrief druk.
Die lys is nie administrasie ter wille van administrasie nie. Dit keer dat iemand wat net u skool se naam ken, 'n kaart van die skooldag kan koop. Sonder verifikasie sien 'n rekening niks nie.
Wat ouers kry
- Al hulle kinders se skole en die naskool in een kalender, in Afrikaans of Engels.
- Elke item met u oorspronklike kennisgewing daaraan geheg, woord vir woord. Almanak herskryf nooit u woorde nie.
- 'n Sondag-opsomming van die week, en 'n herinnering die aand voor iets geld of 'n vorm vra.
- 'n Rekord van wat hulle betaal het, met een tik.
Wat die skool nooit sien nie
Wat 'n ouer aangeteken het. Die rekord behoort aan die ouer. Sodra 'n skool dit kan sien, word Almanak 'n debiteure-instrument en vertrou geen ouer dit meer nie.
Die 15% aan die skoolfonds
Skole betaal nooit. Elke maand ontvang die skoolfonds 15% van die intekengeld van huishoudings met kinders by u skool, met 'n staat wat 'n ouditeur kan lees.
- Een staat per maand, teen die 7de, met die betaling op dieselfde dag.
- Getalle, nooit name nie. Geen huishouding word ooit uitgewys nie.
- Desember se staat word ook gestuur, al is dit nul.
- Vorige state word nooit heruitgereik nie. Regstellings verskyn as aansuiwerings in die huidige maand.
- Waar 'n gesin kinders by twee deelnemende skole het, word die 15% tussen die skole verdeel. Dit is nooit meer nie.
Ons stel voor dat die beheerliggaam die bedrag en wat dit befonds openlik aan ouers bekendmaak. As u dit liewer nie wil hê nie, kan die skool eerder gratis personeellisensies kry.
Veiligheid
Net geverifieerde ouers sien u skool se inhoud. Uitstappies wys net die datum, nooit 'n tyd, plek of hek nie. Ouers sien hulle eie kinders se grade, nie die hele skool nie. Die besonderhede is op die veiligheidsblad.